SSBMW is beslis die plek om te wees

Die 2017-SSBMW-kamp vir graad 6’e te Mooihawens Jeugkampterrein in Bettiesbaai, was groot pret!

Ons het meer geleer oor die omgewing en hoe om daarna om te sien.

Ons was in spanne ingedeel, wat uit ’n mengsel van kommando’s bestaan het, en het so die geleentheid gekry om nuwe vriende te maak. Elke span moes sy eie kreet uitwerk om hul spangees voor te stel. Spanne is ook beoordeel op grond van samewerking, punte vir kennis en hulpvaardigheid by die kamp.

Deel van ons leerervaring was om die Afrika-pikkewyne te besoek en ons het meer geleer oor hulle leefstyl en omstandighede. Ons het ook interessante feite geleer soos dat ’n pikkewyn twee eiers op ’n slag lê, maar dat albei nie op dieselfde dag uitbroei nie.

Elke middag is daar speletjies gespeel soos kennetjie, jukskei en selfs windbuks-skiet; behalwe vir Maandag waar die “Amazing race” gedoen is. Ons het die verskillende baaie van Bettiesbaai ontdek en vir leidrade gesoek.

Daarna het ons die Botaniese tuin besoek vir ’n bietjie rus, asook om versnaperinge te geniet. Om die wegspringtye te bepaal, is daar kettie geskiet. Met die terugkeer na ons kampterrein, was dit ’n besienswaardige wandel langs die Bettiesbaai-kus en kon ons “penkoppe en drawwertjies” vir oulaas die dag se leerervarings oordink…

Volgende jaar se SSBMW is beslis die plek om te wees!

Deur: Mari Coetzee