Struwigkamp 17–21 Maart 2017
Een en sewentig Voortrekkers van vyf kommando’s (Doornkraal, Kameeldoring, Letaba, Queenswood en Impala) het die langnaweek in Maart by Struwig Eco Reservaat gaan kamp. Die Verkenners het almal die Natuurbewaring spesialisasie gedoen, Graad 7-jeuglede het Erfgrond, wat een van ons Belofte-spesialisasies is, sommer gou kaf gedraf en dan het Graad 5- en 6-jeuglede die Ekosorg-spesialisasie met passie aangepak.
Vrydag- en Saterdag aand was groot opwinding aangesien almal in die boskamp oornag het, sonder krag, lopende water, spoeltoilette en geteëlde storte. “Longdrop”, veldstort en koffie maak op gas was ’n ondervinding wat elkeen nooit sal vergeet nie. Terwyl jy slaap met die besef dat jy eintlik in die Krugerwildtuin is met net ’n klein heining wat jou en die wilde diere skei, wonder jy nogal of die olifante met hulle kleintjies ’n draai gaan maak by die boskamp.
Saterdag het ’n ieder en elk met energie en positiewe gesindhede aan die projek gewerk. Kankerroos is ’n indringerplant wat die oewer van die rivier oorneem. Met ’n wildbewaarder, en sy geweer, was almal reg om die plante uit te roei. Maar o wee, hulle is baie en ons is min. Kursustyd het Saterdagmiddag begin onder die bome en Natuurbewaring het besluit dat ’n droë rivierloop net die regte plek vir hulle is om te wees. (Gelukkig was die natuurbewaarder en sy geweer deel van die groep.)
Sondag het almal rustig na die erediens aan hulle spesialisasies gewerk onder die bome.
Maandag is aangepak met vroeg opstaan en vertrek op wildsvoertuie na die oplaaiplek langs die rivier waar ’n rivierboot vir ons gewag het. Olifants River Lodge het die kinders vervoer op die Kambuku-boot tot waar hulle weer met voertuie na die Foskor-myn vervoer is. Foskor het ’n aanbieding gedoen om in te pas by elke spesialisasie wat gedoen is oor die naweek. Met die terugkeer, weer per boot, na Struwig was almal se energie nog nie geblus nie. Opgewonde het almal diere gekyk langs die rivier.
Almal het maar swaar afskeid geneem van Struwig en hulle vriendelike personeel.
Deur: Magda Wentzel