Tannie Ans se agtienliter-bobaasmelktert
Tannie Ans se agtienliter-bobaasmelktert
27 Februarie is Nasionale Melktertdag. Vier hierdie dag saam met Voortrekkers of jou Voortrekkerspan. In Die Voortrekkers Kook resepteboek is tannie Ans se melktertresep. Ans Human is die bobaaskok van Die Voortrekkers in die Noord-Kaap. Haar kampkos is legendaries. Niks kom by haar maklike Bodemvas-melktertresep wat sy graag vir besoekers voorberei nie. Die resep kan ook maklik vermenigvuldig word. Sy vertel:
“Op ’n streekskamp op Kanoneiland in die Upington-omgewing, het die Noord-Kapenaars saamgetrek vir ’n driedagkamp waar verskeie kentekenwerk gedoen is.
“Ons spyskaart vir laataandverversings het melktert en ’n lekker beker milo ingesluit. Terwyl ek besig was met voorbereidings vir aandete, vra ek maar vir een van die damesoffisiere om asseblief vir my die melkpapvulsel aan te maak. Die papier met die resep het al so bietjie onder eier en vanielje-vlekke deurgeloop, wat die presiese hoeveelhede so effens verbloem het. Maar so gesê, so gedaan.
“Ek het instruksies gegee om die resep so drie maal aan te maak. Elke offisier kan dan ’n porsie en ’n stukkie ekstra geniet. Miskien bly daar ’n ou peuselhappie oor vir diegene wat nóg sonde wil pleeg. Toe ek eindelik my aandag verskuif na die tertmakery, sien ek met ’n skok dat daar ’n massaproduksie aan die gang is. Ses koppies melk is per ongeluk gelees as ses liter melk. Dink nou net, agtien liter melk se melkpap… panne en panne vol.
Ons het Bodemvas-melktert geëet, laataand, oggendtee, middagtee en weer laataand. Nie een persoon het gekla nie, net lekker gesmul. Jaar na jaar word steeds geskimp vir die foutiewe agtienlitertert.”