Transvaal Voriesaamtrek 2019

deur Dirk van den Berg

Wat ’n voorreg om deel te kan wees van die volwassenes in Die Voortrekkers!

Tydens Transvaal se jaarlikse Voriesaamtrek oor die naweek, 11-13 Januarie 2019, het ek weer besef hoe bevoorreg ons is om sulke besonderse mense in ons Beweging te hê. Dr. NJ van der Merwe het in 1934 gesê: Ons weet almal die drievoudige behoefte van ons beweging is leiers, leiers en nogmaals leiers. Ek bedoel besielde en toegeruste leiers.” Hierdie woorde is vandag net so waar soos die dag wat dit die eerste keer gespreek is. Die doel van Voriesaamtrek is daarom ook om ons volwasse leiers toe te rus en ons brandstoftenks vol te maak met energie en ywer vir die jaar.

Ek bly verstom oor die gehalte van ons volwassenes – ons tekort aan klagtes, ons onwilligheid om onsself jammer te kry en ons onvermoë om stil te sit as daar werk is om te doen, selfs te midde van ’n nie-tipiese bloedige warm somersnaweek in die Transvaal. Om nie eens te praat van die verstommende hoeveelheid gemeenskaplike kennis, ervaring en vaardighede wat opgesluit is in hierdie groep mense nie! Ek wil graag ons resep met almal deel:

Resep vir ’n suksesvolle Voriesaamtrek (pas gerus aan na smaak):

  1. Identifiseer ’n gewone naweek iewers vroeg in Januarie (Die weer is gewoonlik ’n verrassing, so moenie te veel daaroor kommer nie.)
  2. Meng die volgende bestanddele saam in ’n komitee (voeg enige ander portefeulje by na smaak)
  • ’n Merkwaardige Kampleier (Gerhard)
  • ’n Prysenswaardige Kampadjudant (Charene)
  • ’n Op en Wakker Veiligheidsoffisier (Pierre)
  • ’n Uitsonderlike Kombuisspan (Elize, Jannes en span)
  • ’n Uitnemende Kinderoppasser (wat nog die noodhulp ook daarby behartig! – Alet)
  • ’n Gesonde Hoeveelheid Flink en Flukse Helpers.
  1. Plaas die mengsel binne ’n vakansie waar hulle so min as moontlik rus kan kry, vir ongeveer ’n maand. Na ’n maand word hierdie mengsel so vinnig moontlik verwyder uit hulle kort rustelose vakansie, en geplaas op ’n geskikte terrein soos Hartbeesfontein. Roer deeglik deur met laat inskrywings, kansellasies en verskeie ander uitdagings soos beskikbaar.
  2. Voeg  nou opleidingskursusse by na smaak (hierdie spesifieke resep bevat 3 kursusse nl. Spanhantering vir PD’s, Spanhantering vir Verkenners en Voortrekkerbestuur) wat hanteer word deur briljante kursusleiers en hoogstaande aanbieders.
  3. Die geheim van hierdie beslag is ’n stewige knippie #SaamPraat. Mens is geneig om te veel bestanddele te wil ingooi, tog is daar bevind dat die houer meer kan hanteer as wat logies moontlik lyk. Die bestanddele word aangepas na seisoen en smaak, maar die volgende bestanddele is ’n baie goeie riglyn:
  • Stewige sopie van Transvaal se planne vir die jaar en hoe Die Voortrekkers nog relevant kan bly in die toekoms
  • ’n Besonderse snarsie oor belangrikheid van finansiële prosesse en stigting van nuwe kommando’s
  • ’n Deeglike kwota veranderingsbestuur
  • Dubbele dosis dissipelskap en mentorskap
  • Hande vol gesprekke oor ervaringsleer, self-leierskap en welstand
  • ’n Oorvloedige skep risikobestuur (wees versigtig want ’n ekstra skep kan moontlik uitloop op die begin van ’n nuwe kursus)
  • ’n Hewige skoot kwessies oor spanhantering soos ADHD, aanleer van liedjies vir PD’s en sommer baie meer
  • Aansienlike porsie nasionale projekte, korporatiewe identiteit, bemarking en fotografie tydens Voortrekkerfunksies
  • Vrygewige volume gesprekke oor hoe ons kampvuurgesprekke fasiliteer en ander gesprekke wat dalk kan opduik
  1. Let wel: Hierdie is nie ’n kurkdroë beslag nie, en ’n rapsie hoeveelheid nattigheid word wel toegelaat solank dit sober gedoen word en nie die beslag oorweldig nie.
  2. Hierdie bestanddele word oor ’n naweek deeglik deurgeroer en toegelaat om langs die kampvuur verder te fermenteer. Dit is tydens hierdie gesprek-fermentasieproses waar die verskillende geure met mekaar trou en verder ontwikkel.
  3. Waarskuwing: Daar is gevind dat sommige mense vinnig verslaaf raak aan hierdie resep, selfs na net eenmaal se gebruik. Moet dus nie hiervan proe as jy nie wil hê jou lewe moet onherroeplik verander

Volwassenes van Transvaal – baie dankie dat julle my so trots maak om deel van julle span te kan wees.

Volgende jaar volg ons ’n soortgelyke resep, maar op Nasionale vlak! Ek sien julle almal by die Nasionale Offisieresaamtrek vanaf 9-12 Januarie 2020 op Doornkloof!

Hou Koers en #PraatSaam!