Unika Voortrekkers e-Toer – Aug 2020
deur die Unika e-toer-span
Unika Voortrekkers het ’n baie suksesvolle Jock van die Bosveld e-toer na die beeldskone Mpumalanga aangebied. Kuifie, Arthur en Faf het saam met mede-Voortrekkers van reg oor die land en selfs so ver as Namibië getoer om meer te leer van die Laeveld. Vrydagmiddag, 31 Julie 2020, het die denkbeeldige rooi toerbus vertrek op die Zoom webinaarplatform.
Die e-toer het afgeskop met ’n hartlike verwelkoming en ’n aanlyn vertoning van die “Jock of the Bushveld”-film. Vrydagaand is afgesluit met ’n Krugermiljoene skattejag in die vorm van ’n elektroniese vasvra. Gesinne kon saamspan om hulle algemene kennis te toets. Maar in regte Unika-tradisie was daar ook ’n laataandprogram vir die volwassenes. Almal wat nog wakker was, kon deelneem aan ’n bom-deaktiveringspeletjie waar jou kommunikasievernuf getoets is deur seker te maak die spelleier word nie “opgeblaas” nie. Die geleentheid was behoorlik plofbaar …
Saterdagoggend (1 Augustus 2020) het die e-toer afgeskop met ’n spesiale bewuswordingsboodskap en e-vlagseremonie voor die amptelike verwelkomingsboodskappe van KL Eugene Geldenhuys, OL Chaleen Strydom en AHL Johan Laubscher (aka Oupa Uil).
Spesiale (groen) Corona-roereiers en piesang-en-grondboontjiebotter-quasadillas was op die ontbytspyskaart. Ons Krimpvarkie-offisier het gesorg vir ’n oulike insetsel ter verduideliking van wat gedoen moet word en tyd is gegee vir elke gesin om dit ook te maak en met ons te deel op ons elektroniese platforms (Facebook en WhatsApp) sodat almal kan deel in die pret. Interessante foto’s het as bewyse gedien dat ons Voortrekkers baie kreatief is en nie skrik vir bietjie groen kos nie. In ’n video oor Dullstroom het ons Voortrekkers meer geleer van vlieghengel, die sjokoladewinkel (wat meer as een Voortrekker se belangstelling getrek het), golf en as mens oud genoeg is, selfs whiskey proe!
Ons volgende stop was Lydenburg en die Longtompas. Daar het ons geleer van die pragtige gedenkwaardighede in die ou dorp asook die Long Tom-kanon. Die Tabogganrit het ieder en elk op die punte van hul stoel laat sit en lus gemaak om dit self te beleef. Baie gesinne gaan dit vir seker deel maak van hulle volgende vakansieplanne.
In die ou delwersdorpie, Pelgrimsrus, het die Voortrekkers geleer hoe om goud te delf; daar is ook geleer van die twee verskillende Burgerponde sowel as die Veldponde wat in Pelgrimsrus gemunt is na die Anglo-Boereoorlog. Faf, Arthur en Kuifie het dit ook vreeslik baie geniet in Pelgrimsrus.
By Bourke’s Luck het die bus gestop om middagete te maak. Op die spyskaart was ’n Uni-mielie (“unicorn”) kaas-reënboogbroodjie of ’n “Boere-burger”, gemaak met pap i.p.v. brood wat afgerond is met biltongkrummels. Oom Lochner ken van kosmaak!
Graskop het begin met ’n hartseerstorie van hoe heelwat monumente in die omgewing beskadig is. HL Danie Langner het met ons gesels oor wat ons as Voortrekkers kan doen om ons geskiedenis te help bewaar. Daarna het die Voortrekkers geleentheid gekry om met die glashyser 71 m af in die Gorge te sak tot onder in die pragtige woudagtige kloof. Kuifie, Faf en Arthur het die Voortrekkers gewys hoe die pragtige wandelpaadjies kronkel en het selfs gedink hulle sien kans om met die “Big Swing” af te spring, maar was uiteindelik heeltemal te bang (of dalk net te jonk). Tannie René het toe in Kuifie se plek gespring.
Nog twee van Unika se offisiere het ’n paar jaar terug daar afgespring. Almal kon sien hoe Unika se kommandoleier (Oom Eugéne) 15 jaar gelede die sprong geneem het en kliphard geskree het al die pad tot onder. Die lewendige gesprekke op WhatsApp en Webinaar se chat was baie komies en mense het tot weddenskappe aangegaan, om te raai of dit Oom Eugéne of Tannie Alet was wat so gegil het.
Die bus het hierna vertrek na die Sudwalagrotte waar Tannie Stefa, ons toergids, die interessante geheime van die grot met ons gedeel het. Kuifie, Faf en Arthur het ook vir vet pret gesorg in die Dinosouruspark by Sudwala.
Insetsels van Care for wild, K9 Honde-eenheid en ’n gesprek met Tannie Ella (’n ereveldwagter), sowel as ’n virtuele regstreekse wildsrit, was baie leersaam.
Die bus het ook ’n draai in die Wildtuin gemaak en daar het ons meer geleer van diere se spore, mis, geluide en laatmiddag het die snaakse dierekruisings vir groot genot gesorg.
Aandete was by Barberton en die toergeselskap het hier geleentheid gekry om ’n varkhok of tentvuurtjie aan te pak vir hul roosterkoek en wors, terwyl hulle bene rek voor die aandprogram. ’n Fenomenale kampvuur-aansteekseremonie, gevolg deur ’n spesiale virtuele inlywingsgeleentheid vir die splinternuwe graad R-Voortrekkers van Unika-kommando het die aandprogram afgeskop. Die spanne het hierna ’n geleentheid gekry om met hulle kampvuurkonserte te spog. ’n Kykie na ou bekende TV-advertensies het oud en jonk ook laat skaterlag.
Ouma Uil het haar spesiale storieboek saamgebring en vir al die Voortrekkermaats wat nog wakker was ’n slaaptydstorie gelees. Almal wat hierna nog wakker was, het deelgeneem aan ’n elektroniese “teken en raai”-speletjie soortgelyk aan Pictionary.
Jupiter, Saturnus en die maan het Saterdagaand ’n unieke en wonderlike vertoning gegee om ’n opwindende aand mee af te rond.
Sondagoggend het weer begin met rustige musiek en foto’s van ons spanne waarna ons op ’n gepaste wyse die e-toer afgesluit het.
Op sosiale media was dit duidelik dat mense nie kon uitgepraat raak oor die unieke ervaring nie en was daar verskeie kere gevra waarheen die volgende e-toer vertrek. Ons deel graag een van die vele dankie-briefies wat ons ontvang het wat al die lang ure die moeite werd maak …
Ek wil julle net namens die Fischer’s met harte geluk wens met die beste e-toer ooit.
Ek weet deur die kwaliteit vd aanbieding, dat die beplanning maande moes neem en ons waardeer rêrig die feit dat julle die dam onder die eend uitgeruk het om vir al ons Voortrekkers ’n belewenis te bied wat ons nou al so lank na verlang.
Dit sal nooit dieselfde wees as om langs mekaar om ’n kampvuurtjie te kuier nie, maar wraggies … dit was darem maar redelik naby hoor!
Weereens baie dankie aan almal betrokke, ek en Reuven het dit soooo baie geniet!!!
Indien jy hierdie ongelooflike e-toer gemis het, is jy welkom om na van die insetsels te kyk op die Voortrekkers se YouTube kanaal –
https://www.youtube.com/playlist?list=PLOOM9K5oNU6cOulqYYsE5BCDoxkrNY6dG