Verkenner aanlyn kentekens

In 2020 het die Wêreld Ekonomiese Forum ’n witskrif oor riglyne vir onderwys uitgegee. Daar is agt sleutelkonsepte geïdentifiseer om onderrig van hoogstaande gehalte in die vierde industriële rewolusie te verseker. Die Voortrekkers is in die kol met die Voortrekkerloopbaanplan, kentekens en werkswyse. Sleutelkonsepte is byvoorbeeld burgerskapsvaardighede, kreatiwiteit, leierskap- en sosiale vaardighede. Die toonaangewende verslag dui ook aan dat onderrig besig is om te verander na “een grootte pas almal” na meer persoonlike leer. Die aanlyn kentekens gee vir Voortrekkers die geleentheid om self te kies watter kentekens hulle wanneer wil doen en of hulle dit wil doen.

Vier kentekens kan aanlyn gedoen word: Afrikaanse Taalgeskiedenis, Nasionale Gedenkwaardighede, Leierskapsvaardighede en Kommunikasie. Die Leierskapsvaardighede- en Kommunikasie-kenteken bevat vaardighede wat noodsaaklik is vir die 21ste eeu, of beter bekend as 21ste-eeuse vaardighede. Hierdie vaardighede is wat as noodsaaklik beskou word om in hierdie snel veranderde samelewing te kan oorleef.

Ons is baie trots op ons Verkenners. Daar het reeds 80 Verkenners ’n kenteken voltooi, en daar is meer as 650 digitale kentekens toegeken. Soos wat die Verkenner die vereistes vir die kenteken afhandel, word ’n digitale kenteken toegeken. Ons is besonder beïndruk met die kwaliteit en hoë gehalte van die opdragte en aktiwiteite wat die Verkenners indien. Hierdie Verkenners gee ons hoop vir die toekoms, jongmense wat trots is op hulle taal, monumente en kultuur en wat selfdissipline het en bereid is om te werk.

Alhoewel die aanlyn kentekens ’n alternatief is, is die nommer een keuse om ’n kenteken op ’n kamp te doen. Die Verkenners mis hulle spanmaats, kampe en die sosiale deel van Voortrekkers.

Kentekens kan tot 31 Oktober 2020 gedoen word. Om die kentekens te doen, gaan na voortrekkers.co.za en kies Voortrekkerloopbaan.