Verkenner Avontuurkamp 2019

deur Nig Adri Steyn (Ruiterwag Kommando) en Natasha van Tonder (Despatch Kommando)

Dit is 12 uur Saterdagmiddag en die afskop van Oos-Kaap se tweede Verkenner AVONTUURKAMP. Opgewonde staties (Staatmakers) wag al angstig vir al die kampgangers om te arriveer by die eerste stop, Neef Wynand se plaas reg buite Despatch. Met hulle aankoms begin die Verkenners hulle tente opslaan tussen die huis en die braai area, reg rondom ’n groot boom wat nog glad nie verdag lyk nie. Almal is binne ’n paar minute gereed en ons begin met die Kenmekaar. Die “1-minuut spoed-ontmoet” is weer die gunsteling, aangesien Verkenners wat nog nooit met mekaar gepraat het nie, nou ’n minuut het om sommer ’n paar dinge van mekaar uit te vind voor hulle na die volgende persoon aanskuif.

Neef Wynand het die kiefste hindernisbaan vir ons Verkenners beplan. Na afloop van die Kenmekaar trek ons “vuilmaak” klere aan en tree aan om te hoor wat vir ons wag. Die einste “onskuldige” boom, waar ons die tente opgeslaan het, is ons beginpunt. Ek het nog nooit ’n Verkenner so sien sweet soos toe hulle moes kies of hulle braaf genoeg is om tot bo in die boom te klim en oor een van die heinings te “foefieslide” nie. Kort voor lank was daar ’n paar brawe, bewerige gedaantes wat een vir een tot die toppunt van die boom geklim het en die unieke “foefie-avontuur” geopen het. Volgende was dit maar sink of swem. Verkenners het een vir een onderdeur ’n heining gekruip of gegly, hoe ook al hulle wou. Dan was daar ’n bad vol water wat hulle as “vervoermiddel” moes gebruik, nóg ’n boom klim om almal se name op ’n bordjie te kan skryf en dan nóg nader aan die aarde kom met die laaste punt waar almal een vir een moes “leopard crawl”. Dié keer deur ’n modderige tonnel, deurlopend natgemaak en bedek met takke en blare. Na ’n vinnige duik deur die swembad word daar droog aangetrek en die vure aangesteek. Ons eet later die aand ordentlike braaivleis, broodrolletjies wat in die koolstoof gebak is, slaai en geniet ’n koppie warm sjokolade voor “ligte uit”. Neef Wynand bederf die offisiere met boeretroos van koffiebone wat hy self maal. Tyd vir ligte uit en die Staatmakers se deurnag wagstaan begin. Dit was ’n reënerige eerste aand, maar die volgende oggend is ons almal weer gereed om koers te vat na Rangers. Dankie Neef Wynand vir ’n unieke afskop van die 2019 Avontuurkamp!

So rol die wiele weer aan Ranger’s Outdoors toe vir die tweede gedeelte van Oord Oos-Kaap se Avontuurkamp. Die ou bekendes is almal daar met ’n hele klomp nuwe Verkenners, wat maar bietjie senuweeagtig lyk vir wat nou op hulle wag. Wat die kamp nog lekkerder gemaak het was die besoek van nig Amelia wat al die pad uit die Wes-Kaap saam met ons kom kuier en kamp het.

Daar was nie tyd vir stilsit nie en die dag het sommer vinnig afgeskop met die fietse wat gestel en bande wat gepomp word om die bergfietsrit aan te pak. Nou vir die van julle wat nog nie op Ranger’s was nie, daar is ’n allemintige opdraand wat met ’n bietjie reën die lewe vir jou moeilik kan maak en van die bene kon nie die mas opkom nie. Die fietse moes maar gestoot word, maar van ons Verkenners het gewys hulle het staal in hulle pype en die bult uitgery en met die terugkomslag is hulle so gly-gly oor die modder pad weer daar af, terug kamp toe. Dit was ’n uitputtende bergfietsrit, maar op ’n wildsplaas definitief ’n avontuur. Dankie neef Chris.

Maandagoggend het ons afgeskop met die Boogskiet-spesialisasie. Hier moes die fasiliteerders maar hard praat om seker te maak die veiligheidsrisiko’s word deur almal verstaan en die Verkenners is gedril met die korrekte tegniek van boogskiet tot die arms lam was nog voor hulle een pyl kon skiet.

Die middag is met groot opwinding tegemoet gegaan. Na die Verkenners hulle verfbalbane reeds vroeër die dag uitgelê het, was dit tyd vir die groot geveg. So paar maats was lekker slim en het ekstra baadjies en langbroeke aangetrek vir daai bloukolle wat seker was om te volg. Hierdie gevegte was nie vir sissies nie en na die tyd is die oorlogsbeserings, wat sommer al lekker rooi was, met trots vir almal gewys. Die aand is afgesluit met ’n roetemars wat natuurlik ’n bokdrolspoeg-kompetisie ingesluit het en godsdiens onder die sterre met ’n trop rooibokke en ’n paar bosvarke sommer hier naby jou.

Dinsdagoggend, ’n volbloed reëndag, het ons besoek ontvang van “Get Real Adventures” en die voorreg gehad om die eienaar Nick en sy assistent Nozi as ons aanbieders te ontmoet. Met 4 spanne reg vir die uitdagings is daar eers spanname gekies en oorlogskrete gelewer voor die dag se aktiwiteite begin het. Nou hier het die “uit die boks”-dink begin. Ons moes al ons spanlede balanseer op ’n A4-grote streepsak en ’n mensebrug uit spanlede bou. Ook strukture bou van spaghetti en malvalekkers, roosterkoek maak en sakresies in die reën spring. Hierdie was die plek vir gesonde kompetisie en wonderlike spangees en die reën het ons nie gekeer nie. Met offisiere, jeuglede en Staatmakers wat sopnat deur die water op ’n binneband is en teen ’n modderwal moes uitklouter of selfs teen ’n afdraand moes afrol, was daar ’n paar moeë lywe toe ons by die potjiekoskompetisie uitkom. Om die potjie te begin, moes jou vuur die eerste een wees om deur ’n tou te brand. Vir enige bestanddele vir jou potjie moes jy meeding deur in die kol te wees wanneer jy die “blowgun” gebruik. Dit was groot pret! Almal het darem baie lekker geëet, want kos waarvoor jy self gewerk het, proe altyd lekkerder.

Woensdag het aangebreek. Ons Staatmakers in die oord is eie aan hulle soort en daar sal ver gesoek moet word vir beter. Hulle het hand bygesit met die aanbied van ysbrekers, kreatiewe projekte en was definitief ’n groot bydrae tot die positiewe gees op die kamp. Met die reën wat kat en muis speel, het ons formele boogskietkompetisie tussen jeuglede, Staatmakers en ook die offisiere afgeskop. Hierdie is baie ernstig opgeneem en van ons Verkenners het uithalervertonings gelewer. De Villiers van Despatch en Ruan van Kraggakamma het met die louere weggestap. Nolene van Ruiterwag was in die derde plek. Die braaivleisvure is aangesteek vir die laaste aand se kuier. Die Verkennerseuns van veral Oos-Londen het hul staal gewys. Na ’n lekker ete het ons almal in die saaltjie gekuier met bordspeletjies en die gebruiklike sokkie.

Die Waardes-spesialisasie was iets besonders om saam met die Verkenners te doen as deel van ons program. Hier is ons as offisiere die geleentheid gegee om vir die jeuglede God se waardes vir ons lewens uit te lê met treffende voorbeelde uit die Woord, asook getuienisse van onlangse gebeure met van ons vriende. Die positiewe interaksie van die jeuglede was verrykend vir almal en die gesprekke het wyer en wyer gekring wat definitief ’n blywende indruk op kinders, offisiere en Staatmakers gemaak het. Ons het baie diep spore in mekaar se lewens getrap.

Nig Magda en haar span het net weereens bewys ons Voortrekkers lyk so goed want ons eet so goed, maar die sukses van enige kamp kan net moontlik wees met ’n leier wat haar alles gee vir ons jeuglede en weereens moet ons Nig Sonja Barry bedank vir al haar harde werk en slapelose nagte met al die reëlings. Ons het die avontuur van selfontdekking, en vriendskappe bou, vreeslik geniet en aan onsself bewys dat ons tot baie in staat is met God as ons leidsman. Soos ons laasjaar ook belowe het – ons is volgende jaar weer daar.