Voortrekkers dien

Baie Voortrekkerkommando’s en spanne is reeds die verskil in hulle gemeenskap met ’n veelvoud van plaaslike diensbaarheidsprojekte.

Daar is wonderlike verhale van hoop en omgee, maar niemand weet daarvan nie! Voortrekkers se diensprojekte wissel van uitreik na mense in minder gegoede omstandighede, bewaring van ons erfenisterreine, erkenning aan gemeenskapsleiers tot natuurbewaring. Daar is selfs projekte wat klein begin het, maar vinnig ontwikkel in ’n nasionale projek, soos Rietvallei Voortrekkers se Renosterprojek. Daar is ook gebiedskampe wat ’n gemeenskapsprojek het, soos Swartvlei wat verlede jaar die brandbestryders tydens die Knysna-brande kos gegee het.

Om ’n geheelbeeld te kry van die verskil wat Voortrekkers regoor Suid-Afrika en Namibië maak, is die tema van 2018 se Hou Koers-jaarblad: Voortrekkers dien.

Stuur asseblief jou kommando, kamp, oord of span se storie en foto’s van diensbaarheid voor 31 Augustus 2018 aan Sinta by hkvoort@iafrica.com