VOORTREKKERS VORENTOE!
Die inhuldiging- en belofteseremonie by die Boom van Sameswering was op vele vlakke betekenisvol. Enersyds was dit ’n bevestiging van ons wortels. Onder dieselfde boom het NJ van der Merwe, Japie Heese, CF Visser, Mabel Jansen en ander bestuurslede 85 jaar gelede ook met ’n JA-belofte hulle verbintenis aan Die Voortrekkers se ideaal om ’n skuil- en groeiplek vir ons kinders te wees, bevestig.
Die boom is ook ’n bevestiging van ons karakter. By die groen bankie onder die boom kon ek goed verstaan hoekom die plek met sy uitsig oor die wye Vrystaatse veld vir President Steyn ’n plek vir bid en dink was. Hermann Giliomee skryf in sy biografie oor Die Afrikaners dat die ruimtes van die land in Afrikaners se karakter ingesink het.
Die wye horisonne het ons gees gevorm, daarom sing ons ook “die ruimtes het ons siel gevoed, ons kan geen slawe wees. Vryer as die arendsvlug is die vlugte van ons gees.”
Die boom konfronteer ons ook met ’n keuse van leierskap. In Rigters 9 ontmoet ons vir Jotam. Dit gaan sleg in die land. As ons dink Afrikaners het vyande, het ou-Israel nog meer gehad. Daar is Hetiete, Ammoniete, Amoriete, Feresiete en die lastige Filistyne. Boonop is daar hardkoppige en eiesinnige stamme met voortdurende rusies en twiste, burgeroorloë, goddeloosheid, morele verval, geweld, oorloë, onderdrukking, droogtes en slegte ekonomie, familievetes en leierskapgevegte. Dit is in dié konteks dat Jotam die verhaal vertel van bome wat op ’n dag besluit om ’n koning te kies. Hulle nader die olyfboom, die vyeboom, die wingerdstok, wat almal die koningskap van die hand wys. Ons ken sulke leiers. Mense wat al die gawes en talente het om in hulle gemeenskap, organisasie, land ’n verskil te maak. Olyfsalf om seer wonde te genees. ’n Oorvloed van soet vrugte om honger mense kos te gee. Wingerde vol wyn sodat moeë mense kan fees vier. Tog verkies hulle om nie te dien nie, maar op die kantlyn te staan, om nie te deel nie, maar net vir hulself te sorg. Hulle is trots op alles wat hulle het, maar blind vir hul eie onbetrokke selfsug.
Die doringbos steek sy hand op, maar met streng voorwaardes. Julle sal so laag buig totdat julle onder my skaduwee inpas. Julle sal onder my dorings buig, anders sal ek die land verbrand. Leiers vir wie posisie belangriker is as die mense wat hulle moet dien. Hulle dra met gemak die koning se kroon, maar dien net eiebelang. Leiers wat nie gee nie, maar wil ontvang. Wat nie wonde genees nie, maar groter seer veroorsaak. Wat nie bou nie, maar brand. Leiers wat hulle mag sal misbruik om groot seders in hul klein skaduwee in te dwing.
Die gevolg is dat selfs die groot en trotse seders van die Libanon brand.
Jesus wys vir ons die alternatief van diensbare leierskap. Die alternatief was, sterf aan die eie-ek, posisies, ambisies. Jesus sê immers: “As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy ander mense dien.
En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees.
Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.
Dra mekaar se laste; was mekaar se voete; wees sout en lig.”
So bou ons nie net ’n land, ’n skool, ’n kerk, ’n organisasie of kinders se karakter nie. So bou ons die koninkryk. Daarom sê ons ook Voortrekkerwerk is koninkrykswerk.
Diensbaarheid is die verskil tussen leiers wat breek en leiers wat bou. Ons JA was ’n belofte van diens.
Die boom konfronteer ons ook met ’n toekomskeuse. Dit is duidelik dat die takke na vier eeue verstar en verdroog het. Ons leef soos baie Afrikanerkultuurorganisasies in vandag se konteks, maar is korporatief gestruktureer aan die hand van die Unie van Suid-Afrika se provinsiale grense, werk met ’n grondwet en reglemente wat in ’n ander eeu vir ’n ander konteks ontwikkel is.
Wie fyn kyk, sou gelukkig die nuwe lote raaksien wat met ’n wil tot lewe deur die verstarring van ou takke dring. Die belangrikste vraag is: wat is nodig om die wortels te voed sodat groei volhoubaar gestimuleer kan word?
Die spitwerk wat vir Die Voortrekkers voorlê, is moeiliker, minder sigbaar, gaan groter moed en opoffering vra. Dit gaan veral kreatiewe denke en dade van diensbare leiers vra wat bereid is ’n kompas vir nuwe tye te wees. Gelukkig het ons groeimomentum aan ons kant en ons lede is positief oor die toekoms van ons beweging.
Ons kan nie net die beeld na buite blink vryf en ons selftevrede op die skouer klop nie. Ons moet met die skeppende krag van NOU alles doen wat nou nodig is om korporatief te herstruktureer, deur desentralisasie eienaarskap en seggenskap vir ons gemeenskappe terug te gee, plattelandse gebiede te help en langtermyn volhoubaarheid deur bekostigbaarheid te verseker.
Daar is sommige agtertrekkers en dwarstrekkers wat hulself troos en sê daar sal baie ondersoeke wees, maar niks sal verander nie. Ons sal vir hulle lief bly en met geduld omarm, maar nie toelaat dat hulle noodsaaklike veranderinge laat sloer of Voortrekkers gyselaar hou in ’n ander eeu se werkswyse nie. Oud-Hoofleier Johan van der Walt het tereg opgemerk tyd het vir Afrikanerorganisasies uitgeloop. Ons kan nie die luuksheid van niksseggende duur ondersoeke sonder positiewe uitkomste langer bekostig nie. So houding is ook nie regverdig teenoor ons kinders nie en uit pas met moderne Voortrekkers.
Die kongres het vier prioriteite goedgekeur wat ons doelgerig en spoedeisend sal uitvoer, naamlik
- die daarstel van ’n geïntegreerde Voortrekkerloopbaan,
- ’n tuiskomplek vir gesinne,
- uitreik na gemeenskappe en
- kulturele entrepreneurskap wat insluit nuwe denke oor ons struktuur en ledegeldmodel.
In 2031 met ons Eeufees-kongres wil ons onder dieselfde boom staan. ’n Boom vol blare wat getuig van groei, lewenskrag en getrou aan ons stigtingsideale ’n skadu vir ons kinders bied. Dit is die karakter van ’n Vrystaatse olienhout. Dit is die karakter van Voortrekkers. As dit so kan gebeur, kan ons terugkyk na die 2017-kongres en weet ons het vandag ons werk gedoen om ’n toekoms te skep.
Die uitdagings is baie en die taak voor ons is moeilik, maar nie onmoontlik nie. Verlede jaar het ons ou spore bevestig en nuwe spore getrap. Vanjaar het ons gesê Voortrekkers KAN! Nou sê ons met volgende jaar se tema:
VOORTREKKERS VORENTOE!