Voriemôl het rekord verkope
Tydens die Kongres van 2017 is ’n Voortrekkerwinkel, die Voriemôl, ingerig in die personeelkamer van Grey Kollege. ’n Verskeidenheid van 190 produkte was beskikbaar. Daar was baie verskillende aktiwiteitespakkies om Voortrekkerspanne mee besig te hou soos mosaïekwerk, lapverf, verf van Voortrekkerwapens, touwerksakkies, ’n groot reeks legkaarte en speletjies.
Deel van die produkte was ook verskillende Voortrekkerklere soos Voortrekkerhempies, wolmusse, hoedens en warm baadjies. Daar was tot fietsryhemde met ’n groot Voortrekkerwapen daarop! Daar was baie geskenkies om van te kies soos middernagfeespakkies, Voortrekkerkombersies, bekers, Voortrekkermesse, glase en ’n nuwe veldreeksmateriaal waarvan slaapsaksakke, veldrugsakkies, vlagsakkies en toiletpapiersakkies gemaak is. Alles vir die entoesiastiese kamper. ’n Groot verskeidenheid Afrikaanse boeke was ook te koop aangebied.
Daar is ongeveer R75 000 se produkte verkoop. Die winkel het gewerk met ’n elektroniese stelsel met skandeerders. Elke item is voorsien van ’n strepieskode-plakker met besonderhede daarop. Baie dankie aan Nina van Heerden van Rietvallei-kommando en Nico van Heerden vir die gebruik van die effektiewe stelsel. Hierdie stelsel het die verkope aansienlik makliker gemaak!
Dankie aan elke persoon wat in die Voriemôl-winkel gehelp het en bygedra het om die projek so suksesvol te maak. Die Voortrekkers het ook ’n aanlyn winkel – www.voriemol.co.za – waar van die produkte gekoop kan word.