Voriemôl

Tagtig jaar gelede het Die Voortrekkers ’n depot begin vir die stoor en verkoop van Voortrekkerdrag. Die eerste depot was bedryf uit oom Badie Badenhorst se garage in Boksburg. Reeds in die eerste jaar is £6900 se voorraad verkoop. Op 27 Januarie is ’n nuwe hoofstuk begin toe Die Voriemôl sy deure amptelik by die hoofkantoor in Pierneefstraat, Pretoria, oopgesluit het. Die Voriemôl is ’n kombinasie van ’n moderne Afrikaanse kultuurwinkel met baie oulike geskenke en kreatiewe spanhulpmiddels; ’n aanlyn winkel wat produkte landswyd koerier; die bestaande Voortrekkerdepot en ’n gemeenskapsmark waar ons kreatiewe Voortrekkers ’n geleentheid bied om hulle spogprodukte te verkoop. So help ons mekaar. Die aanlyn winkel is die volgende fase om Die Voriemôl se deure net ’n klik-afstand van elke Voortrekker oop te maak. Of jy nou in Richardsbaai, Kathu of Swakopmund woon kan jy deur middel van die aanlyn winkel die Voriemôl besoek. So skep ons ’n ekonomiese enjin wat help om Afrikaanse rande regoor Suider-Afrika te mobiliseer om vir ons kinders ’n volhoubare kultuurtoekoms en unieke kultuurbelewenis te bly skep.