Vriende wat familie word
deur Marné van Rooyen
Dames en here, ouers …
En die belangrikste, die PV-kandidate, baie welkom aan almal wat hierdie besonderse aand saam met ons deel.
Ek wil begin deur vir elkeen wat hier sit baie geluk te sê aan sy of haar toekenning, wat vir sommige van ons langer as ’n dekade geneem het om te kry.
Om na vanaand te kan sê: “Ek is ’n Presidentsverkenner”, het baie jare, take en portefeulje-opdragte geneem.
Om vir mense te sê jy is ’n Voortrekker lig baie wenkbroue en die algemene terugvoer wat ons almal al sekerlik gekry het is: “O, kan jy vuur maak?” of “Weet jy hoe om toue te knoop?”
Maar wat is Voortrekkers eintlik? Om eerlik te wees, as Voortrekkers slegs uit volkspele en seremonies bestaan het, was daar tien teen een net 5 van ons vanaand hier. Voortrekkers is soveel meer.
Ek dink elkeen wat vanaand hier sit kan met selfvertroue sê dat Voortrekkers ’n groot rol speel in wie hulle vandag is. Die woorde “Hou Koers” bring dalk net ’n hoendervleis-oomblik op. Dalk dink jy aan jou eerste Voortrekkersokkie, of die deurnag in die yskoue winter saam met hartsmense.
Wilgedraai se warm dae en yskoue nagte … die Selfbehouders sal vir jou kan sê dat “Map en sand” nou nie die lekkerste Sondag-middagete is nie, maar dat dit definitief nie van die hand gewys word nie.
Die mense van Lunsklip sal kan getuig dat soos die kraai vlieg nie altyd die vinnigste pad is nie en dat ’n mens soms van jou berge af moet abseil omdat daar nie altyd vastrapplek is nie.
Vir die Seejollers is dit dalk ’n skipseremonie langs Hartenbos se strand.
Vir die Tabaniete is dit dalk ’n dubbel reënboog, of ’n melkkan. Of ’n ou simpel brug wat ’n baie dieper betekenis het as wat dit op die oppervlak mag lyk.
Ek wil namens elkeen wat hier is baie dankie sê aan die ouers en die mense wat hierdie ongelooflike Voortrekkerpad vir ons moontlik gemaak het.
Mede-Voortrekkers moet asb. nie nou ophou met Voortrekkers nie. Die Voortrekkers het jou nodig sodat meer kinders kan beleef wat jy beleef het as Voortrekker. Staan saam as een en hou koers!
So ja, dames en here, ons kan vuurmaak (op horde verskillende maniere) en ja, ons kan toue knoop. Maar ek dink die tou wat ons die beste geknoop het, is ons vriendskapstou. Ons het mense leer ken en herinneringe vir ons oudag bymekaargemaak saam met lewenslange vriende.
So, om Voortrekkers op te som in een sin: Vriende wat familie word.
Dankie aan almal wat my Vorieloopbaan so besonders gemaak het!