Vryburg-kommando moes vernuwend dink
deur Sumari Posthumus
2020 was vanjaar ’n uitdagende jaar vir Vryburg-kommando; nie net moes ons planne beraam hoe om ons jeuglede aktief besig te hou nie, maar ook ons beplanning rondom lesaanbieding verander. Baie van ons lede het beperkte internettoegang, dus moes ons heeltemal vernuwend en breër dink as die normale. Die Supersnuiter-aktiwiteite het baie gehelp.
Ons het ’n masker-kompetisie aangebied, waar daar vir die kreatiefste masker gekies kon word via ons Facebook-blad. Ons het ’n fort-uitdaging gehad, en geleer van verskillende vlae. (Hier moes die Verkenners bietjie kreatief wees en hul vlae maak.)
Ses van ons Verkenners het ’n spanpoging aangewend en ingeskryf vir die FAK se Geskiedenisolimpiade. Dit was groot pret en ’n uitdaging gewees.
Op 14 Augustus het ons Taaldag gevier en elkeen in die kommando moes hul gunsteling Afrikaanse storieboek afneem, asook hul gunsteling sêding stuur. Ons het lekker gelag vir die goed wat deurgekom het.