Vrystaat Kompetisiekamp 2021
deur Jaco Erwee
Kompetisiekamp vind op Doornkloof op die Overespruit-terrein plaas. Die gebiedskamp word aangebied vir graad 9-Verkenners en ons hanteer die Kamplewe en Ekologie spesialisasies gedurende die kamp.
Die Verkenners kry slegs die eerste twee en laaste twee etes uit die kombuis kos. Vir die res van die kamp is hulle verantwoordelik om nie net vir hulself nie, maar ook vir die offisiere wat saamkamp, kos te maak. Elke span ontvang ’n resepteboek, spyskaart en die bestanddele vir die dag se etes. Offisiere word op ’n rotasiebasis genooi deur die span sodat elke offisier geleentheid kry om by elke span te eet.
Ten spyte van die maskers het die kamp goed afgeloop. Die gees van die kamp was nogal beïnvloed omdat ons nie saam kon sing nie.
Elke span bou met gomlatte en tou ’n veldyskas, ’n dreineringsputdeksel en ’n tafel vir 12 mense. Elke span ontvang ook ’n paar bakstene en ’n staalplaat waarmee daar ’n veldstoof gebou word, waarop alle etes voorberei word. Dit is voorwaar baie harde werk, maar lekker om die sukses daarvan te sien.
Ons Ekologie-spesialisasie dek ook ’n wye spektrum met periodes waar ons voëls kyk, in die natuur stap en na diere, gras en grond kyk, praktiese omgewingsbewaring doen, meer leer van Christenskap en die natuur, en vele ander aksies.
Kompetisiekamp is enig in sy soort, en ’n mylpaal in enige Verkenner se Voortrekkerloopbaan.