Vrystaat Voortrekkers skop jaar op hoogtepunt af

deur Maralda Meyer

Vrystaat Voortrekkers het die nuwe jaar op 11-13 Januarie met Volwasse Opleiding op Doornkloof afgeskop.

Tydens die naweek is daar twee formele kursusse aangebied, naamlik Spanhantering en Bestuur. Daar is ook vyf spesialiseringskursusse aangebied, naamlik Kreatiwiteit, Fotografie, Seremonies, Kampering en Voëlidentifisering.

Die offisiere by Spanhantering het prakties geleer hoe om voor te gaan met hulle eie span. Spanhantering se kursusgangers het beslis uitgestaan met hulle geel spandrag.

By die Bestuurskursus is daar geleer van hoe om ’n kommando te bestuur.

Die kransleggingseremonie deur die Seremonie-kursusgangers was baie spesiaal.

Kreatiwiteit het geleer om uit die boks te dink en het met ’n paar treffende skeppings vorendag gekom.

Die Fotografie-kursusgangers kan beslis spog met die foto’s wat hulle geneem het nadat hulle die basiese tegnieke en werking van ’n kamera geleer het.

Voëlidentifisering het Doornkloof platgeloop, maar ook praktiese dinge geleer soos hoe om voëltjies na jou tuin te lok.

Kampering het ’n kamp beplan en heerlik hulle eie worsie en stokbrood in die spruit gaan braai.

Die hoogtepunt van die naweek was Saterdagaand se kuier om die kampvuur. Daar is heerlik saam gesing, saam gekuier en nuwe vriendskapsbande gesmee.