Waarom het Die Voortrekkers vandag nog bestaansreg?

Ons almal het verskillende redes waarom die Voortrekkers vandag nog ’n belangrike faktor in ons land en  gemeenskap is (in die moderne lewe is.) Vir my lê die gemeenskaplike rede in die woorde van ons ABC-stelsel, “Afrikanerskap”, “Burgerskap” en “Christenskap”, asook die woorde “kultuur”, “natuur” en  “avontuur”.

Afrikanerskap –  Waar anders as in Die Voortrekkers kan ons voluit in ons hartstaal, Afrikaans, leef en groei. Afrikaans is die taal waarin ons praat, sing, dans, skryf en liefhet. Die Voortrekkers is ’n organisasie wat kinders aanspoor en inspireer om in Afrikaans te eksperimenteer. Die Voortrekkers is die plek waar ons woorde soos “toestelletjies” in plaas van “gadgets” gebruik of “kief” in plaas van “cool”. Ons koester en groei in ons taal. Ons ontwikkel ’n liefde vir ons Afrikanergeskiedenis, maar  ons pas ook aan by die moderne samelewing met onder andere ons eie “kief” webtuiste en aanlyn winkel. As Christene, deel ons die liefde en vreugde van Christen-wees nie net met ons Voortrekkerfamilie nie, maar ook met die mense daar “buite”.

Burgerskap – “As julle saam werk, sal julle…” Dis iets wat ek gereeld as Verkenner gehoor het. Die Voortrekkers bou gemeenskap, samesyn en integriteit. Die proses begin in die span, met die individu, waar die offisier ’n positiewe verskil in ons lewens maak  deur ons te leer om mekaar te respekteer en die “reëls” te gehoorsaam; in die wyer spektrum met integriteit en ’n omgee-hart te leef. Ons streef daarna om ’n verskil te maak, nie net in die Afrikanergemeenskap nie, maar as ’n Afrikaner in ander gemeenskappe. Van skoene en boeke skenk tot pret en plesier deur Volkspele en boeresport. As Christene, gehoorsaam ons die wette van ons land, ons bly op hoogte van die sake van die dag en bid vir ons land; vir ons nasie. Ons weet God het ’n plan vir ons land en “dit maak ons opgewonde”.

Konsekwente Christenskap – “’n Sterker verhouding met God beteken ’n sterker verhouding met ander.” Dié woorde saam het die kragtigste boodskap vir my in my Verkennerjare oorgedra. Voortrekkers koester om na aan God en sy skepping te leef. Elke Voortrekker ontwikkel met die jare geestelike weerbaarheid; interne paraatheid; waardes. As Christene waardeer en geniet ons die natuur wat aan ons gegee is om op te pas. Ons ontwikkel die talente waarmee Christus ons geseën het en ons erken en aanvaar elkeen as unieke individue. Dit is vir my altyd die lekkerste gevoel om op ’n kamp of selfs net ’n daguitstappie buite of om die vuur te sit, omring met die natuur, en terselfdertyd in staat is om met gemak en liefde te praat oor God en iets te leer uit Sy woord. Deur Christenskap te koester, het ons ook ’n positiewe bydrae tot die samelewing: Lojaliteit en integriteit, ons dra die belange van ander ook in ons harte, ons beïnvloed ander wat ons oop gees ervaar en ons neem standpunt in teen dit wat verkeerd is.

Die Voortrekkers is nie net nog ’n kultuurorganisasie nie, dit raak deel van jou menswees. Dis ’n leefstyl. Die Voortrekkers is die plek waar jy lewenslange vriende ontmoet. – “Vriende wat familie word.” As ek aan Voortrekkers dink, dink ek avontuur, kamp, sing, doen… Die Voortrekkers bemagtig ons as individue en as gemeenskap deur die kennis wat ons deel tydens kampe, kentekens, uitstappies en spankamers.

Deur: Natasha van Tonder