Wapadrand se Uitkomkans Karmars

deur Louna Coetzee

Dit was nou groot pret! Wapadrand-kommando het vir almal wat vuisvoos was van die inperking, die kans gebied om as ’n gesin bietjie uit te kom. Tegnologie is deurgaans ingespan. Vooraf moes ons op ’n Google-vorm registreer en is op ’n geslote WhatsApp-groepie geplaas. Omliggende kommando’s is ook genooi om deel te neem. Vrydagaand was daar al 153 inskrywings!

Ons het baie uitgesien na die Karmars wat voorlê en het gereeld lusmakertjie per WhatsApp gekry. Op die groot dag was die padkos al gepak en kon ons nie wag dat dit 9 uur word nie. Die boodskappe kom deur: Die Karmars sal begin oor 60 min… 30 min… 10 min… en uiteindelik was dit tyd! Ons het opgewonde om die selfoon saamgedrom en die lys met 15 leidrade het deurgekom. Chaos! Almal in die gesin gee raad. Uiteindelik word ’n kaart van die Ooste van Pretoria uitgedruk en met Google se hulp word van die punte aangedui. Nou gaan ons die roete beplan. Ons begin naby ons huis en sal in ’n groot sirkel ry. Wel … alles het toe nou nie presies so maklik uitgewerk nie. In ons oorhaastigheid is ’n paar leidrade misgekyk.

Ons spring in die motor en daar gaan die Coetzee-span en ons begin sommer dadelik aan die padkos knibbel. O wee, reeds by die eerste punt sukkel ons. Ons ry twee keer rondom Hoërskool Garsfontein op soek na die blou bord met ons kommandowapen op. Gelukkig was daar nog karre wat gesoek het. Hoera, ons vind dit en een van ons spanlede moet uit die motor spring en die QR-kode met die selfoon skandeer. Dadelik verskyn daar ’n vraag oor hierdie punt en ons moet die korrekte antwoord kies en insleutel. Nou weet ons hoe dit werk.

Dit was glad nie so maklik om al die punte te vind nie. Die opstellers was baie kreatief. Wie sou nou kon dink dat die Bos Restaurant die antwoord op die vraag was oor Dalene Matthee se boek? Of dat daar ’n versteekte ou kerkhoffie in Boeingstraat is? Ek het al baie kere daardie pad gery en dit nog nooit gesien nie. Die Groot 5 het ons by The Wilds se naambord gevind. By die Erasmuskasteel en ’n paar ander plekke moes ons selfies neem en instuur.

Partykeer was dit maklik om ’n punt te vind, want daar was alreeds 2 of 3 motors voor ons daar. Dan het ons mekaar vrolik gegroet. Almal was in ’n vrolike bui. Ander kere was ons die enigste motor en moes maar mooi soek.

Dit was lekker om ’n paar nuwe plekke in ons area te besoek. Soms moes ons by ’n punt ’n aktiwiteit doen. Ons papiervliegtuigie het net ’n draai gegooi en reg voor ons voete kom land. Afstand gevlieg? 0 cm! Maar moenie dink dit het ons geesdrif gedemp nie. Ons wou eintlik nie hê die Karmars moet ophou nie. Dit was heerlik om na die inperking te kon uitkom en te lag en alles te geniet.

Toe het ons weer in spanning gewag vir die uitslae. Pryse is toeken vir: Roete in kortste afstand voltooi (48 km), kortste tyd (2 h 6 min), meeste korrekte antwoorde, span met meeste inskrywings, ens. Wel, my span (die Madeliefies) is darem genoem vir die span wat 100% teenwoordig was … en daarop is ek trots.

Groot dankie aan al die organiseerders. Julle het puik werk gedoen!