Wawiel rol, spekbome plant en ’n potjiekoskompetisie

deur Nicci Kleynhans

 

Rol die wiele wiele wiele rol die wiele van die wa …

Op 17 en 18 September het Klapperkop Voortrekkers letterlik skouer aan die wiel gesit en die wiel laat rol.  Vir oor die 70 km ver …  Groot en klein, jonk, jonger en jongste het deelgeneem aan Oord Oosterlijn se 90 jaar fees-wawielrolprojek.  Om en om is die wawiel gestoot ten bate van ’n groot hartsaak, ons bosadel … die renosters. Op dié manier het ons Vories weereens saamgestaan en fondse ingesamel om ons groot grys vriende van die bos te help versorg.  Vinnige voetjies en gewillige arms en hande het moedig gestoot aan die wiel en vele pannekoeke, koeldranke en ysies is geniet.  ’n BAIE suksesvolle dag is afgesluit met baie kilometers en geld in die sak.

Rol die wiele vir renosters!!!

 

Hoe gemaak met 2 groot verjaarsdae? #GaanGroot!

Laerskool Monumentpark se 50 jaar van ABC  + Voortrekkers se 90 jaar van D (Diensbaarheid) en ter viering van beide plant die Penkoppe en Drawwertjies van Klapperkop Voortrekkers op Vrydag 3 September 2021,  3 x 90 Spekboom-saailinge by hulle skool.

Voortrekkers waardeer en bewaar ons omgewing

#trotsABCD #90JAAR

 

Laat die potte kook!

’n Volle 20 jaar na die terreuraanval op New York (11  September) en midde ’n nuwe (of nie meer so nuut nie) krisis wat wêreldwyd die lewe bykans tot stilstand dwing, raak ons kreatief om steeds die ander belangrike datum van die jaar te herdenk en vier.

Die Voortrekkers is 90 jaar oud in 2021 en kan ons eenvoudig nie hierdie geleentheid net stil laat verbygaan nie. Afrikaners is mos plesierig en geen pap (nee, fees) is sy sous werd as daar nie lekker geëet word ook nie. Saam met verskeie kommando’s van Oord Oosterlijn poog ons om 90 potjiekos-potte tegelyk gereed te hê vir smul.

’n Bietjie kompetisie is natuurlik NET die ding om die feestelikhede daardie ekstra hupstoot van pret en plesier te gee. Weens die beperkings van die pandemie, word daar besluit dat hierdie die ideale geleentheid is om slegs ons volwassenes ’n bietjie te laat ontspan en saamkuier met hul gesinne. Ons weet dat die offisiere talle (ekstra) uitdagings die hoof moes bied die afgelope amper 2 jaar en word dit ’n heerlike middag van skerts, kuier en met mekaar korswel terwyl die potte na hartelus prut.

Met die Voortrekkermonument in die agtergrond, was daar geen gebrek aan inspirasie nie. Elke inskrywing het met ’n tema gepaard gegaan en is daar tafels daarvolgens versier. Klapperkop se tema “HKGK” het by hierdie geleentheid definitief nie teleurgestel nie, want Hier Kom Geurige Klapperkop!

Ons P/D- sowel as Verkenner-jeugleiers was die beoordelaars en het hulle baie knap van hul taak gekwyt. Nie eens ’n klein kul-versoeking kon daarin slaag om die vier van stryk te bring nie. ’n Bewys dat integriteit vir ons Vories belangrik is en dat ons die jeug beslis voorberei om hul plek in die samelewing vol te staan as positiewe Burgers en konsekwente Christene.

Om 17:30 was dit tyd vir die beoordelaars om hul finale proe, skryf en sê te proe, skryf en sê. Daar was wel pogings om oor die pryse te onderhandel, maar die beslissing was finaal. ’n Middag en aand wat nog lank onthou sal word.