Wes-Kaap Bakenkamp
Die Bakenkamp in die Wes-Kaap het hierdie jaar ’n rekord getal inskrywings gehad. Die beddens was te min, die saaltjie te klein, die kombuis onder druk, maar deur dit alles was dit weereens ’n suksesvolle kamp. Deur al die geleer, het ons darem tyd gemaak vir pret ook. Soos gewoonlik het ons almal Bakenkop uitgestap. Selfs ’n Verkenner op krukke was nie genoeg om ons tradisie stop te sit nie. Hy is eenvoudig op ’n stoel gelaai, tentpale is ingespan en hy is die berg uit gedra. Die “aanval” op die PD-kamp se offisiere het ook vir groot avontuur gesorg, ten spyte van die feit dat die Verkenners maar erg tweede gekom het! Die aandgesprekke is altyd insiggewend en die Verkenners se gedagtes rondom ernstige sake wat hulle toekoms raak, word gemaklik met die offisiere gedeel. Ek vertrou dat elke Verkenner die kamp ten volle geniet het.
Deur: Anton Erwee