Wikkelwurm Saterdag
deur Nig Suzanne Swart
Op 10 April 2021 hou Ruiterwag-kommando ’n Wikkelwurm Saterdag. Jeuglede, ouers en offisiere trek saam by Van Stadenskloof Voortrekkerterrein vir die opwindende dag Tom Swartz – die algehele wenner van “SURVIVOR FILLIPPYNE” – is as eregas genooi. Dit was ’n groot verrassing vir die kinders.
Die man van die oomblik daag in sy kamoefleerdrag op met “Survivor” wat duidelik op sy kopband wys. Die man weet wat dit is om te OORLEEF.
Die dag sluit in skuilings bou, kaartwerk, braai, spoorsny, touwerk, boeresport en inlywings.
Nig Riana Breytenbach spring weg en leer die kinders oor spoorsny. Aandagtig neem die kinders deel en luister hulle baie mooi. In die bos het die Staatmakers spoorsnytekens gaan opstel. Tom Swartz vergesel die kinders onder leiding van Megan MacGorman op hulle spoorsny-ekspedisie.
Daarna het kaartwerk en touwerk gevolg. Almal het ’n beurt gekry. Gou-gou kon die kinders op die kaart wys waar hulle tans is, rigting bepaal en die kaart lees. Touwerk het gesorg dat almal aan die knoop gaan en selfs die kleintjies het aanhou probeer totdat daar ’n skuifknoop te siene was. Die opwinding was groot en die glimlagte breed.
Daarna neem Tom Swartz en die offisiere die kinders bos toe om ’n skuiling te bou. Tom Swartz, kenner op daardie gebied, spring weg en leer die kinders. Gou-gou word takke en blare gesoek en kort voor lank staan ’n skuiling wat Tom uittoets en goedkeur. Despatch-kommando se Verkenners kom sluit aan en neem deel aan ’n meer gevorderde skuilingbou-aktiwiteit. Na die skuilingbousessie is ons beslis seker dat die kinders dit wel sal regkry. Hoe moeilik kan dit nou wees? Oom Tom het hulle mooi geleer.
As die magies van die honger grom dan leer ons die kinders braai. So is die kinders die geleentheid gegee om self ’n vuur aan te steek. Selfs die dogters het nie op hulle laat wag nie. Kort voor lank kon ons die gejuig hoor as die kinders se vuurtjies een na die ander brand. Soms moes ’n offisier bietjie hand bysit, maar braai sal ons braai. En so het die jongspan vir ’n lekker gebraaide worsie op ’n broodrolletjie gesorg. Knap gedaan.
Daar word klippies geverf. Die ouers spring in en vinnig word klippies geverf vir ons klippie-projek. Voortrekkers steek die klippies weg om die leuse en die wese van die Voortrekkers uit te beeld. Kort voor lank het die klippies kleur en tekens gekry. Volg ons op “Facebook” onder “PE ROCKS” #voortrekkers om te sien waar word ons klippies orals gevind. Nou kan die wegsteek begin.
Laastens word Nolene du Preez (Staatmaker) en die Penkoppe en Drawwertjies ingelyf. ’n Baie spesiale oomblik vir Ruiterwag. ’n Groot eer en trots om ons kinders die voorreg te kan bied om een met Die Voortrekkers te kan wees.
So word ’n heerlike dag afgesluit. Moegheid kon hier nie kersvashou nie. Die dag was ’n nie vergeet-oomblik wat vir altyd ’n onthou-oomblik in die kinders se harte sal los.
Tom Swartz kon nie uitgepraat raak oor Die Voortrekkers nie en het net daar en dan besluit om ’n vriend van Die Voortrekkers te word.