Winterkamp Doornkloof
Gedurende die wintervakansie het die 10de Winterkamp op Doornkloof in die Vrystaat plaasgevind. Vanjaar is daar twee kursusse aangebied naamlik, die jagkursus asook die boogjagkursus. By die jagkursus verwerk die kursusgangers die Jag en Wildbeheer- spesialisasie asook Vuurwapens, terwyl die Boogskiet en Gevorderde Boogskiet spesialisasies by die boogjagkursus toegeken word.
Op ’n koue Doornkloof het die kinders wonderlike ervarings beleef en nuwe vriendskapsbande gebou. Een van die hoogtepunte van die kamp is verseker die laataandstories en kuier om die kampvuur met ’n beker warm sjokolade in jou hand.
Die jagters het al die fasette rondom jagetiek, beveiliging en bewaring, en hantering van vuurwapens hanteer, en die hoogtepunt was die jag van elkeen se eie blesbok! Die boogjagters het baie vaardighede geleer en ook hul eie pyle gemaak. Die hoogtepunt hier was die baie praktiese skiet en die bou van jagskuilings.
As jy in jag of boogjag belangstel, maak seker dat jy betyds inskryf vir volgende jaar se kursus sodra die inskrywings beskikbaar is, want ons plekke is beperk. Ons het hierdie jaar kinders van oorkant die Vaalrivier gehad, anderkant die Drakensberge en selfs ’n maat vanuit Amerika het kom saam kamp. Onthou dit is ook ’n baie unieke geleentheid aangesien jou ouers saam met jou vir ’n kursus mag inskryf en hierdie belewenis met jou kan deel !